10
Jul
09

Die eerste nag (van amper onthou)

Ek weet nie presies hoe lank ek daar gelê het nie.

Die vloer was koud onder my gesig. My oë het ondersoekend die omgewing probeer inneem ten einde die kreukels op my fronsende voorkop uit te stryk. Waar is ek? Hoekom lê ek hier op die grond. Waarom hou my regterhand ‘n leë asbak styf teen my lyf vas?

Die asbak.

Die as-bak …

Die ene wat jy altyd gebruik het. In my Spooklaghuis. My oë borsel weer vlugtig oor die vertrek waarin ek my bevind .. dan onthou ek. Duiseligheid het my oorweldig. Ek het na die asbak gegryp, dit het oor die boekrak se gladde oppervlak gegly. Ek het my balans verloor, my kop teen die hoek van die kas gestamp en .. en nou is ek hier. Op die koue stofbedekte vloer.

Die vertrek lyk anders as vroeër. Dis skaduwees op die houtvloer is langer, hul kontras donkerder. Dis skemer. Ek glimlag effens by die gedagte, want ek onthou skielik dat skemer vroeër kom hierso. Die omliggende bome dans met hul stokkerige arms omhoog en hou hul blaar-hande uitgestrek na bo totdat die son die woud nie met ‘n enkele straal kan penetreer nie.

Ek staan van die vloer af op. My liggaam voel styf en my kop pyn verskriklik. My bagasie? Ek kyk af grond toe .. sien my sokkies. Dan onthou ek. Ek het dit waarskynlik op die voorstoep gelos toe ek my skoene uitgetrek het.

Ek stap terug in daardie rigting. Maak die voordeur oop en yup dit is presies waar ek dit gelos het. Ek tel dit nie dadelik op nie. Ek kyk eers na die prentjie voor my en neem dit met nuwe waardering in. Skemertyd in die woud. Wanneer die bome hul drie-dimensionele groen-en-bruin monderings verruil vir ‘n een-dimensionele swart silhouette afge-ets teen die pastel-gekleurde hemelruim terwyl die son sy tasse pak om ‘n haan elders op die planeet te laat kraai.

Homecoming.

Ek sien ‘n klomp voëls v-vormig terugkeer na hul neste in die boomtoppe. Ek word bewus van al die ander nag-geluide om my, wat altyd harder klink wanneer dit donker is, en gehoor moet kompenseer vir die afwesigheid van sig.

Ek het dit anders voorgestel. Die homecoming. Ek het verwag dat dit sou voel soos iemand wat vir baie lank weg was met vakansie en moeg dog tevrede terugkeer na sy eie woning. Maar .. dit voel asof ek sopas van ‘n winter-slaap wakker geword het. Vir lank afwesig, maar nooit weg nie.

Dis koud. Ek besef dit nou eers. Ek tel my sakke en skoene op en gaan terug in die huis in. Sluit die deur agter my. Ek haal diep asem .. ek is tuis.

fireplace (400 x 267)

My voete dra my in die rigting van die kaggel. Daar is meer as genoeg droë hout wat ek onaangeraak agtergelaat het. Ek gaan sit op my hurke en begin die hout pak. My uitgestrekte hand vind die vuurhoutjies op hul gewone plek. Ek wag geduldig vir die geboorte van die vlamme, totdat ek die geknetter hoor en die warm aanraking van die vlammegloed teen my gesig voel.

Ek draai my gesig in die rigting van die trappe.

Die Spooklag.

Die eggo van ‘n sug.

Ek bêre dit tot die volgende sonsopkoms. Ek gaan vanaand net hier op die mat voor die kaggel slaap. Of liewer, ek gaan hier lê. Of die slaap gaan kom .. hmm. Daar behoort nog komberse in die gangkas te wees.

Ek stap in die rigting van die kombuis. Daar is ‘n houtrak met ‘n paar wynbottels in. Ek sien die stof het ook sneeusag op die gekleurde glas gaan lê. Ek trek ‘n bottel rooiwyn nader. Ek is nie honger nie. Ek stap na die kas om ‘n glas uit te haal .. my oog vang die wasbak. Daar staan twee glase, twee borde, messe en vurke.

Ek stap na die wasbak toe .. my vinger streel oor die rondings van elke glasstuk. Kan dit wees, het ek nie eers die skottelgoed gewas .. ek skud my kop asof ek die onthou wil voorkom. Ek gaan haal vir my ‘n skoon glas uit die kas en gaan sit voor die kaggel wie se arms my warm omvou.

Ek neem ‘n sluk van die wyn en vergeet om dit te proe. Die vlamme dans onderstebo in die rooi van my glas. Ek kyk daarna, sonder om te sien. Draai onwillekeurig my kop in die rigting van die trappe. My oë volg nie.

Die kaggel hou my oë gevange. Die vlamme, geklee in skakerings van oranje, wit-warm en blou, terg mekaar spelerig in die stilte. Die sy-venstertjie is stil want die wind het saam met die son gaan slaap.

Al wat nou klop is die pyn in my kop as gevolg van die val. Die vuur voor my is mooi. Dis warm en dit laat my veilig voel. Ek sit die halfvol glas op die tafeltjie langs my neer. Ek kyk na die spore wat my lippe op die rand van die glas gelos het. Ek dink aan die ongewasde glase in die wasbak ..

Ek wil nie nou onthou nie. Ek sluit my oë. Ek voel die hitte van die kaggel op my gesig maar die knetterende stem van die vuur het stilgeword en plek gemaak vir die naggeluide van die woud daarbuite.

Ek probeer onderskei …

Die krieke .. die ssshhh van die kole in die kaggel .. die paddas .. die trappe ..

Die .. zzzz ..

09
Jul
09

Om en om en om

Die huis is stil.

Ek is nie seker wat ek verwag het nie. Maar dis .. oorverdowend stil. Asof die spoke sluimer.

Ek kyk na die vormlose linne wat oor sommige van die meubelstukke gedrapeer is. Ek hoef nie te raai nie, ek onthou presies wat onder elkeen verskuil is. Ek let op hoe die stof in die kreukels van die lap versamel het.

My voete dra my geluidloos baie stadig vorentoe. Hierdie vloer is myne .. en tog is ek huiwerig om daarop te beweeg. Wat sou dit veroorsaak? Is ek bang om weer ‘n duidelik sigbare stofspoor agter my te laat as bewys dat ek weer hier was? Of is ek bang om oor die ou voetspore te loop wat hier begrawe lê en te vind, net miskien, dat ek destyds besig was om te dans?

Ek staan weer stil in die middel van die vertrek en kyk om my heen. Ek het destyds so min agtergelaat, of so het ek gedink en tog, hmmm, is hier só baie. Is dit wat ‘n Runaway aan mens doen? Jy stap uit, sluit die voordeur agter jou sonder om oor jou skouer terug te kyk na wat agter jou lê?

Ek probeer dink aan my weggaan hierso. Ek kan dit nie baie goed onthou nie. Al wat ek onthou is dat ek moes wegkom. Daar en dan. Hmm ..

Hmmm ..

Terug in my huis. My Spooklaghuis. As hierdie mure kon praat .. ek wens soms hul was gewillig genoeg. My maag maak bollemakiesie, asof die vlinders daarin onderstebo vlieg. Ek is bang ..

Ek
is
bang.

En tog .. opgewonde. In die oorverdowende stilte hoor ek ‘n klavier wat speel. Ek hoor stemme wat druis en kompeterend hard met mekaar probeer praat. Ek kyk om my rond .. ek kan nie lokaliseer waarvandaan ek die klank hoor nie.

trappe

In die een hoek .. ‘n sug.

Ek draai om .. ek hoor iemand snik vanuit ‘n vertrek om die draai.

Die trappe. In die rigting van die trappe ..

My ore stap voor my voete uit .. absorbeer elke decibel .. een trap op ‘n slag .. en daar is dit weer ..

Die Spooklag.

Ek staan stil. Die vertrek .. draai om my. Ontvoer my. Hier is soveel onthou-goed. Soveel wortels in hierdie grond. Ek wil eensklaps begin grawe .. tot reg onder .. maar ek weet.

Ek sug.

Ek weet .. hierdie gaan nie ‘n kortpad wees nie. Hierdie huis is groot. Hier is baie. Ek sal met my sokkie-voete moet gaan kruisbeen sit op hierdie stof-bedekte vloer en soos ‘n delwer van ouds aan die oewer van ‘n rivier die inhoud moet sif totdat ek vind waarna ek soek ..

Ek voel duiselig. My sintuie werk skielik oortyd. Ek wonder vir ‘n vlietende sekonde of ek genoeg vrae vir al die antwoorde gaan hê? Gordyn .. muur .. voordeur.. kas .. stoel .. gordyn .. muur .. trap .. ek kan nie meer byhou nie. Die klavier speel al hoe harder. My voete het ‘n kring oopgetrap in die wit stof. Die stemme klink ver .. ek’s moeg .. so baie .. vrae .. stemme .. vrae .. die wind .. nog vrae .. die kas .. muur .. duiselig .. ek steek my hand uit as refleks want die vloer kom vinniger nader as wat dit moet ..

My vingers gryp die naaste objek wat hulle kan vind om aan vas te hou. Ek verloor my balans, plaas al my gewig op daardie hand .. wat vorentoe skuif en onder my greep uitgly. Dit was die asbak.

Asbak.

As-bak.

Flames to dust. Eina. My kop stamp teen iets. Die klavier. Die trappe. Die Spooklag.

Dit word .. skielik donker om my .. maar die son sit nog hoog?!

Die wind ..

Die kloppende sy-venstertjie wat nie dig sluit nie laat ‘n klein trek deur. Dit laat die voordeur agter my toe klap.

Dis donker om my. Ek hoor nie die deur klap nie .. net die ..

Stilte.

Oorverdowend.

08
Jul
09

Homecoming

Do be dead .. is not necessarily death.

Ek post op Spooklag. Dis ‘n baie vreemde gevoel. Spooklag was vir my soveel dinge. Dit was soos ‘n baie groot huis in die woud waar ek vir ‘n lang tydperk gewoon het. En om die sleutel te draai en weer hierin te stap ..

Ek hou my asem op. Kyk om my rond. Neem die prentjie in. Alles is presies in plek soos ek dit gelos het. Ek haal stadig maar diep asem. En tog huiwer my voete om die eerste treë oor die ou houtvloer te gee, nou met n lagie wit stof bedek.

Ek ken immers die plek. Alles hierbinne is myne. Ek weet hoe lyk die meubels in die hoek wat met wit linne-lappe toegegooi is. Ek skrik nie wanneer die wind liggies teen die klein sy-venstertjie klop nie, want hy was nog altyd so. Maar tog .. is dit vreemd.

Deserted (400 x 531)

Hmm, is dit vreemd .. of is ek bang? Juis ómdat ek hierdie plek en sy geheime so goed ken. Omdat ek presies weet watter emosie in elke sug verweef was. Omdat ek presies weet watter woorde onhoorbaar geuiter is in elke opgehoude asem. Omdat ek weet watter spoke hier naby begrawe lê en omdat ek weet .. watter siele my hier kom vind het.

Ek staan steeds bewegingloos in die deur en staar na die binnekant van die huis. Die swaar benoude reuk in die lug verklap dat die woud se vars asem maande gelede deur die gange gewaai het.

Dit is doodstil om my. Behalwe vir die ligte wind wat trapsuutjies om my waai en sy vingers speels deur my alreeds deurmekaar hare trek, asof om te sê ‘welcome back kiddo’.

Die Stille Runaway staan voor haar Spooklaghuis. En dis ‘n vreemde gevoel, want sy draai nooit terug op haar ou voetspore nie. Something brought me back here. I don’t what it was, who it was or why?

Maar hier is waar ek nou moet wees. Hier is waar ek nou wil wees.

Om dalk my pad terug te vind .. na myself.
Om dalk vrede te kom maak .. met myself.
Om dalk te erken my runaway destyds was .. van myself.

Om dalk die wêreld en sy make-up buite die voordeur te vergeet, my bootse uit te skop en net weer die boskind te word wat altyd op haar sokkies loop en in die skadu’s van die bome dans.

Ek buk vorentoe. Ek unzip my skoene, trek hulle uit en los my bootse by die deur. Die dun hak laat die een skoen kantel. Ek los dit net so. Ek staan op my sokkies. Die ou houtvloer voor my is vaal onder die stofkombersie.

Ek neem die eerste tree ..

30
Sep
08

R.I.P.

S P O O K L A G

09/10/2007 – 30/09/2008

.. die eggo van ‘n sug ..

HER GHOST IN THE FOG NOW DWELLS HERE

28
Sep
08

It is time ..

Spooklag is eersdaags ‘n jaar oud. Die pad stop hier.

Dankie aan elkeen wie se pad hier met myne gekruis het.

Keep it real.

Elf

GROET SONDER WOORDE

[Artist: Theuns Jordaan]

Laat ons nie praat nie
Die tyd is verby
Niemand is kwaad nie
En albei is vry
Kom kyk deur die ruite
Die nag staan en blom
Woorde hoort buite
Want hartseer is stom

Lê jou kop hier teen my skouer
Laat jou hart sy paaie gaan
Stilweg word ons wys en ouer
Eendag sal ons dalk verstaan

Maar tot die ryp kraak onder skoene
Wat geen ander hart of tuiskoms ken
Gun ek my nog visioene van een
Wat die hele wêreld wen

Jy hoor my nie meer nie
Ek sê maar totsiens
Ek sal jou nie steur nie
Ek loop ongesiens
Want jy is in woorde
Waar drome nog blom
Ek groet sonder woorde want hartseer is stom

En jy is in woorde waar drome nog blom
Ek groet sonder woorde want hartseer is stom

25
Sep
08

Gedagtes in Blohm

[Written by Elf – 19 August 2008]

ek sien die woorde op my skerm
ek kyk op
sien jou
voel klein
en vir nou is jou lettergrepe
dit wat die spasies tussen my eie vul
dankie vir die klippie teen my glasruit
die impak was meteories
skerwe
splinters
stof
ja ons is almal stof
en eendag
sal ek vandag onthou
en weet
dis ‘n fine memory

[Written by Elf - 24 September 2008]

stille runaway silhouette
afgeëts teen die sunset sky
hardloop ek sonder hul oë op my
na ‘n wêreld
weg van hierdie een
waar my skaduwee
‘n groentrui dra
ek kaalvoet in die veld
jou woorde kan vlieg soos n kite
hoog naby die son
daar waar hulle jou in die kollig laat woon
waar ek jou wysies soos blomme kan pluk
in die veld van gister se onthou
iewers onder ‘n boom gaan sit
kruisbeen op jou poetry kombers
en terugkyk na daar
waar die blinde aasvoëls woon
jou naam sit kos op hulle tafels
elke keer wat jy val
ek wonder stilweg hoeveel van hulle
vandag se datum onthou
maar hier in my wêreld
sit my runaway silhouette
in die skaduwee van ‘n reus
en dink ek stilweg aan 30 jaar terug
aan die dag toe jou ster begin skyn
dankbaar vir die voorreg
om daarin te kon deel
al is dit op ‘n cd of by ‘n show op die tv
op die grondpad naby van waar ek sit
ry ‘n pitchblack cadillac verby
‘n nuwe lewensjaar het jou kom haal
om die aandster te vervang
want jy skyn in my wêreld
ek kyk op na jou en sien die verskil
wat ‘n enkele ster in die donkerte kan maak
my hande uitgestrek
daar onder die boom
neem ek ‘n vuurvliegie gevange
om as kersie vir jou te brand
met hande biddend bymekaar gevou
mag die Here jou seën en nog baie jare spaar
ek het vandag se datum onthou

HAPPY BIRTHDAY JAN

22
Sep
08

Is God op ‘n brb?

Dis maklik om vinger te wys.

Ek dink mense vind dit lekker op ‘n manier. Dit projekteer die aandag of blaam weg van hulle af, verplaas die verantwoordelikheid, skeld hulle vry van oortreding of verkeerde gedrag of optrede … dis ‘n verligting as daar ‘n scapegoat is. Tipe van ‘n ‘phew’ aksie.

Ons doen dit met God ook. En hierdie keer is ek nie so seker dis ‘n veralgemening nie, inteendeel, ek volunteer om eerste in die beskuldigde bank te gaan staan. Ek kry op ‘n daaglikse basis die volgende boodskappe van mense (soms nie in soveel woorde uitgedruk nie, maar die inhoud bly dieselfde):

God het doof geword. Hy het van my vergeet. Hy is op ‘n brb. Hy maak of Hy luister maar hoor nie. Hy wil nie vir my die antwoorde gee nie.

Sound familiar? Hmmm ..

‘n Goeie vriendin het eendag vir my die volgende gesê: “Snaaks hoe gou mense kan uitfreak as hulle ‘n titel verloor, hetsy dit ‘n werk is, ‘n balkie … sommiges verloor hulle persoonlikheid maar kom dit nie eens agter nie.”

Ek sal daardie woorde nooit vergeet nie. Ons verloor baie goed .. elke uur van elke dag. Maar as ons God verloor .. dan maak dit nie saak nie. Soos sy opgemerk het, jy verloor die balkie wat veronderstel is op om jou skoolbaadjie te wees .. krisis! Maar jy verloor jou identiteit tussen die einste mense wie jy jou vriende noem .. en dis in orde? Daar is ‘n R10 missing in jou beursie .. nou wat nou? Maar dis heeltemal fine as jy jou waardes en norme oorboord gooi .. ter wille van aanvaarding.

En wie het al daardie goed onvoorwaardelik en uit liefde vir jou gegee: jou balkie, jou identiteit, jou menswees .. wie het daarvoor gesterf? God. Maar dis fine as jy Hom verloor?

Een van my ander spesiale vriende sê anderdag vir my .. ons bid altyd dat God die regte deure vir ons moet laat oopgaan. So ‘n ‘open Sesame’ tipe ding. Hy is mos after all ‘n God van wonderwerke.

Toe voeg hy egter die volgende by: “Al die deure is reeds in plek. Soms moet jy net die moeite van jou kant af doen om die handvatsel te draai.”

Ek kan nie help om te wonder nie … is die vinger wat na God wys die een wat sê hy is op ‘n brb (be right back) .. of is die drie vingers wat terugwys na jouself die wat sê jy is afk (away from keyboard) .. hence you being unavailable to God .. not the other way around.

Hierdie woorde uit ‘Power Of Your Love’ eggo vanaand iewers waar ek dit oor en oor wil sing:

Hold me close, let Your love surround me.
Bring me near, draw me to Your side.
And as I wait, I’ll rise up like the eagle,
And I will soar with You, Your Spirit leads me on
In the power of Your love.

21
Sep
08

Net ‘n knipoog

Iets het my sedert einde verlede week aan die dink.

Soms dink mens, ten einde ‘n verskil te maak, het jy nodig om klippe uit iemand se pad te rol en daarna daardie einste pad met jou kaal hande gelyk te maak. Om soms gewapen met ‘n sak vol pleisters en salf iemand te probeer genees. Om soms al die antwoorde te hê, die oplossings te ken. Om vir 24 uur van elke dag onvoorwaardelik vir iemand beskikbaar te wees, net in geval van nood. Soms, om jouself as’t ware te offer aan (ten koste van?) die persoon in nood. Daar is derduisende ander voorbeelde.

Ek glimlag .. effentjies. Die antwoord is eintlik so eenvoudig. Want soms is dit (meer as) voldoende … net om iemand se bestaan te erken.

Geen mooi woorde nie, geen komplimente nie, no trick questions, niks extreme nie. ‘n Blote gebaar wat sê .. ek weet jy is daarbuite, iewers. Ek weet jy bestaan, dat jou gevoelens bestaan en vir jou werklik is .. en ek respekteer dit. Erkenning.

Die troos van iemand wat sy of haar lewe op pause sit, ongeag die tydsduur. Vir iemand om ‘n ongevraagde minuut uit hul eie besige dag te neem, om die foon op te tel en te sê ‘praat met my, ek luister’ .. om ‘n e-mail te stuur met ‘n opregte ‘is jy ok?’ .. ‘n ‘ek dink aan jou’ sms sonder enige ander woorde .. soms ‘n geluidlose drukkie .. inteendeel, soms selfs deur te weet wanneer om stil te bly ..

Soms het mens nodig om deur ander daaraan herinner te word dat jy iemand is, dat jy bestaan. En dan, in sulke tye .. is daardie bevestiging genoeg. Sonder antwoorde, salf of pleisters.

Ek tel nie meer vere om my op nie .. ek hark dit bymekaar. Hoe sê mens dankie?

20
Sep
08

Ballade van die Ryloper (II)

[Written by Elf - 10 September 2008]

geluidloos langs my stilgehou
terwyl ek, ryloper
ewe geluidloos
elke decibel
my storie vertel

die skulp van jou oor
het goedsmoeds
die woorde van my enkeling-ballade
lettergreep vir lettergreep
ingesluk

waar jy
rustelose siel
vreemdeling-vriend
my onwetend gelei het
na waters van rus

31
Aug
08

Tot eendag ..




who's online
Photobucket

Haunts

  • 4,094 hits

Author: Elf

Photobucket
Photobucket
Photobucket Photobucket Photobucket Photobucket Photobucket
Photobucket
Photobucket

 

July 2009
M T W T F S S
« Sep    
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Strangers In The Night