Ek weet nie presies hoe lank ek daar gelê het nie.
Die vloer was koud onder my gesig. My oë het ondersoekend die omgewing probeer inneem ten einde die kreukels op my fronsende voorkop uit te stryk. Waar is ek? Hoekom lê ek hier op die grond. Waarom hou my regterhand ‘n leë asbak styf teen my lyf vas?
Die asbak.
Die as-bak …
Die ene wat jy altyd gebruik het. In my Spooklaghuis. My oë borsel weer vlugtig oor die vertrek waarin ek my bevind .. dan onthou ek. Duiseligheid het my oorweldig. Ek het na die asbak gegryp, dit het oor die boekrak se gladde oppervlak gegly. Ek het my balans verloor, my kop teen die hoek van die kas gestamp en .. en nou is ek hier. Op die koue stofbedekte vloer.
Die vertrek lyk anders as vroeër. Dis skaduwees op die houtvloer is langer, hul kontras donkerder. Dis skemer. Ek glimlag effens by die gedagte, want ek onthou skielik dat skemer vroeër kom hierso. Die omliggende bome dans met hul stokkerige arms omhoog en hou hul blaar-hande uitgestrek na bo totdat die son die woud nie met ‘n enkele straal kan penetreer nie.
Ek staan van die vloer af op. My liggaam voel styf en my kop pyn verskriklik. My bagasie? Ek kyk af grond toe .. sien my sokkies. Dan onthou ek. Ek het dit waarskynlik op die voorstoep gelos toe ek my skoene uitgetrek het.
Ek stap terug in daardie rigting. Maak die voordeur oop en yup dit is presies waar ek dit gelos het. Ek tel dit nie dadelik op nie. Ek kyk eers na die prentjie voor my en neem dit met nuwe waardering in. Skemertyd in die woud. Wanneer die bome hul drie-dimensionele groen-en-bruin monderings verruil vir ‘n een-dimensionele swart silhouette afge-ets teen die pastel-gekleurde hemelruim terwyl die son sy tasse pak om ‘n haan elders op die planeet te laat kraai.
Homecoming.
Ek sien ‘n klomp voëls v-vormig terugkeer na hul neste in die boomtoppe. Ek word bewus van al die ander nag-geluide om my, wat altyd harder klink wanneer dit donker is, en gehoor moet kompenseer vir die afwesigheid van sig.
Ek het dit anders voorgestel. Die homecoming. Ek het verwag dat dit sou voel soos iemand wat vir baie lank weg was met vakansie en moeg dog tevrede terugkeer na sy eie woning. Maar .. dit voel asof ek sopas van ‘n winter-slaap wakker geword het. Vir lank afwesig, maar nooit weg nie.
Dis koud. Ek besef dit nou eers. Ek tel my sakke en skoene op en gaan terug in die huis in. Sluit die deur agter my. Ek haal diep asem .. ek is tuis.

My voete dra my in die rigting van die kaggel. Daar is meer as genoeg droë hout wat ek onaangeraak agtergelaat het. Ek gaan sit op my hurke en begin die hout pak. My uitgestrekte hand vind die vuurhoutjies op hul gewone plek. Ek wag geduldig vir die geboorte van die vlamme, totdat ek die geknetter hoor en die warm aanraking van die vlammegloed teen my gesig voel.
Ek draai my gesig in die rigting van die trappe.
Die Spooklag.
Die eggo van ‘n sug.
Ek bêre dit tot die volgende sonsopkoms. Ek gaan vanaand net hier op die mat voor die kaggel slaap. Of liewer, ek gaan hier lê. Of die slaap gaan kom .. hmm. Daar behoort nog komberse in die gangkas te wees.
Ek stap in die rigting van die kombuis. Daar is ‘n houtrak met ‘n paar wynbottels in. Ek sien die stof het ook sneeusag op die gekleurde glas gaan lê. Ek trek ‘n bottel rooiwyn nader. Ek is nie honger nie. Ek stap na die kas om ‘n glas uit te haal .. my oog vang die wasbak. Daar staan twee glase, twee borde, messe en vurke.
Ek stap na die wasbak toe .. my vinger streel oor die rondings van elke glasstuk. Kan dit wees, het ek nie eers die skottelgoed gewas .. ek skud my kop asof ek die onthou wil voorkom. Ek gaan haal vir my ‘n skoon glas uit die kas en gaan sit voor die kaggel wie se arms my warm omvou.
Ek neem ‘n sluk van die wyn en vergeet om dit te proe. Die vlamme dans onderstebo in die rooi van my glas. Ek kyk daarna, sonder om te sien. Draai onwillekeurig my kop in die rigting van die trappe. My oë volg nie.
Die kaggel hou my oë gevange. Die vlamme, geklee in skakerings van oranje, wit-warm en blou, terg mekaar spelerig in die stilte. Die sy-venstertjie is stil want die wind het saam met die son gaan slaap.
Al wat nou klop is die pyn in my kop as gevolg van die val. Die vuur voor my is mooi. Dis warm en dit laat my veilig voel. Ek sit die halfvol glas op die tafeltjie langs my neer. Ek kyk na die spore wat my lippe op die rand van die glas gelos het. Ek dink aan die ongewasde glase in die wasbak ..
Ek wil nie nou onthou nie. Ek sluit my oë. Ek voel die hitte van die kaggel op my gesig maar die knetterende stem van die vuur het stilgeword en plek gemaak vir die naggeluide van die woud daarbuite.
Ek probeer onderskei …
Die krieke .. die ssshhh van die kole in die kaggel .. die paddas .. die trappe ..
Die .. zzzz ..















Whispers In The Dark